GEDAGTE-GEWOONTES
Ek het ʼn gedagte-gewoonte
wat ek van jongs al aangeleer het. Ek was dikwels teleurgesteld in mense. Dit
was egter die wyse waarop ek na mense gekyk het, wat die ongelukkigheid
veroorsaak het. Byvoorbeeld, as iemand iets vertel het, het ek hom in die fynste
besonderhede na die feite uitgevra. As hy vir my sou sê iemand was kwaad, het
ek uitgevra hoekom hy so sê. Sien, ek het nie sy afleidings geglo nie. Ek wou
my eie afleidings maak. Ek was eintlik “ongelowig”. Ek het selfs nie die Here
vertrou nie, en het lank geneem voor ek in Sy Goedheid geglo het.
Verder, as iemand
2 jaar lank gaaf was met my, maar eendag kwaad word oor iets of naar was met my
het ek dadelik gesê dat sy ware kleure nou uitkom. So het ek hom in my gedagtes
geklassifiseer. Ek was teleurgesteld en het daai persoon dan vermy en ver weg
van hom gebly. Ek het mos nou agtergekom hoe hy was. Wat ek geweet het, maar
nie besef het nie, is dat niemand volmaak is nie (ek ook nie!) en een of ander
tyd maar ʼn slegte dag kon hê sonder dat ek hom vir ewig afgeskryf het.
Die Here het my
van hierdie slegte gedagtepatroon verlos. Eers het hy vir my gewys dat ek maar
mense kon vertrou. Dat ek nie die alwyse en alwetende was nie. Toe het hy vir
my geleer om die mooie in ander raak te sien, om die persoon agter die slegte
raak te sien, ook om te sien soos die Here hulle sien, ʼn verlore sondaar. Hy
het my ook geleer om nie op prinse te vertrou nie, maar op Hom, dus was ek nie
so teleurgestel nie. Ook het Hy my geleer dat Hy goed geweet het hoe sleg mense
was, maar hulle tog liefgehad het en oor hulle gehuil het. Verder is die Here
altyd naby, en is Hy daar om my te help om mense met Sy oë te sien en te
beoordeel.
Deesdae sien ek
raak dat hierdie gedagtepatroon ‘n familie-gewoonte is, en bid ek dat my familie
ook deur die Here verlos sal word van hierdie gedagtes wat mens net chronies
ongelukkig maak.
No comments:
Post a Comment