Gister bel manlief my so ewe en lig my in dat ons tuinier buitekant die hek op 'n klip sit en wag, en wil weet of ek die hek gaan oopsluit. "maar waar is Grace dan?" vra ek nog terwyl dit my soos 'n bliksemstraal tref dat my hulp weereens nie opgedaag het nie.
By die huis aangekom, spring ek in en warm kos op vir David, maak die kombuis skoon, terwyl ek al hoe magteloser voel oor die Grace wat met my woer-woer speel.
Die kombuis en eetkamer lyk asof sewe families die vorige aand daar gebraai het, en nie net 'n paar vriende nie. Ek moés natuurlik net 'n paar nuwe slaairesepte uitprobeer wat per epos by my aangekom het, en nou sit ek met die gebakte pere. Ek moes ook net 'spiteful' wees en nie gisteraand skoonmaak nie, denkende dat dit Grace se verdiende loon is. Ja, ek wil mos.
My telefoondeuntjie sing, en ek moet aanhoor dat iemand 'n afspraak met my het by die werk en vir my wag. Ek lag lekker - maar ek hoor my vriendin weet nie waaroor ek so lekker lag nie. Ek het nie 'n vasgestelde tyd-afspraak nie, die persoon het net vir my gesê: "Are you at work tomorrow? I am coming to see you" nouja. Ek verduidelik die hele storie.
Ek waag dit om 'n bietjie langer by die huis te bly om orde te skep. Span vir David in om die sitkamervloer te mop en die braai skoon te maak.
Moeg gewerk, en net toe als 'n bietjie beter lyk, kom Grace daar ingeseil, ewe onskuldig. Dis kwart voor een!
Na haar storie wat my glad nie beindruk nie, pluk ek die voorskoot af, gryp my sleutels en ja, die Tex-sjokolade wat ek gisteraand met uiterste wilskrag vermy het, en eet die ding net daar op. Terselfdertyd gryp ek die oorskiet skyfies en gaffel hulle ook in.
- dis nou waar die onbeheerbare eet vandaan kom.
Onbeheerbare slegte gebeurtenisse = onbeheerbare eet in my lewe.
wat is die antwoord? mmm ja ek weet dié ook. Vertrou op die Here as Grace nie kom nie. Ek hét 'n benoude flitsgebed opgestuur, maar was behoorlik omge-ellie. Duidelik het die Here dadelik gehelp, of liewer, gehelp nog voor ek gevra het. Ek kon nie eers behoorlik dankie sê nie. Te omge-ellie. Dankie Heer. Help asb. weer volgende keer, en sommer ook: hoe gaan ek ophou eet? Help my om u te vertrou, en dinge te hanteer soos U wil.
Liefde,
ekke
No comments:
Post a Comment