ʼn Groot les wat ek geleer het, is om te leer om
konfrontasie te hanteer. Voorheen het ek die stoompot tegniek toegepas. Dit
behels dat ek die negatiewe gevoelens sluk, niks sê of doen nie, en
uiteindelik as dieselfde persoon my dikwels benadeel het, ʼn uitbarsting gehad
het. Daarna het ék soos die vark in die verhaal gevoel. Die regte ‘vark’ in die
verhaal, was eintlik doodonskuldig en het niksvermoedend opgetree, want ek het
hom/haar geen tekens gegee dat ek nie hou van wat hy/sy aan my doen nie. Dit
was eintlik oneerlike en lafhartige gedrag van my kant af, omdat ek nie gewys
het wat my ware gevoelens of opinie was jeens die gedrag nie.
Ek het my verbeel dat almal altyd
hulle ordentlik moet gedra. Ek het ook dadelik bedreig gevoel as iemand van my
verskil. In my wêreld, as iemand van mekaar verskil het, was daar onmin.
In konfrontasie situasies het my
stemmetjie sommer hoog, skril en bewerig geword, en dikwels as ek kwaad was,
was die trane sommer naby. Nodeloos om te sê, is dat dit my nie gebaat het as
dit byvoorbeeld in ʼn werksituasie gebeur het nie.
Oor ʼn tydperk heen het ek
verskillende dinge agtergekom: mense mag maar van my verskil, die idee van “let’s agree
to disagree” en die saak dan daar te laat, het by my ingang gevind. Ek
hoef nie bedreig te voel nie, ek hoef nie te voel ek hoef daai een te oortuig
nie, ware liefde laat toe dat ek hom/haar respekteer vir sy opinie, nie
noodwendig saamstem nie. Ek het ook die persoonlike uit die situasie gehaal en
die situasie geneutraliseer, so te sê; deur eerder op die opinie te fokus en
nie op die persoon nie, soos bv. Ek stem nie saam met jou opinie of jou
gevolgtrekking nie, eerder as, ek stem nie saam met jóú nie. In ʼn nouer verhouding sou ek dalk nog effe
angstig raak, want wat een dink sou noodwendig ʼn invloed hê op wat met die
ander een gebeur. Sou ʼn gade bv. glo om skuld aan te gaan en die ander een nie,
sou hulle beslis ongelukkig wees oor wat die ander een doen of nie doen nie.
Ek het hulp gekry in die Here se
Woord waar Hy spesifiek aan die vrou sê om nie angstig rond te kyk nie, maar
stil te wees en op Hom te vertrou (ek soek nog daai vers maar weet hy ís daar
iewers). In die Bybelse tyd was die vrou regtig wetlik magteloos, onder haar
man se gesag, en kon sy ook nie vir haarself sorg nie. Maar die Here wou juis in
dié omstandighede hê dat die vrou op Hom vertrou, en dat Hy sou sorg. Ek kan
ook nou getuig dat as ek só op die Here vertrou het, Hy uitkoms gegee het op
een of ander manier. Ek het geleer dat ek moet bly glo en vertrou, terwyl ek op
Hom wag, dat wát ook al die uitkoms is, die Here Sy Hand daarop sou hê, en dat
dit sou ten goede uitwerk vir dié wat Hom liefhet.
Romeine 8:28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom
liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is
Jes. 41:14
Moenie bang wees nie, al is jy niks meer as 'n wurm nie, Jakob, al is jy
klein, Israel. Ék help jou, sê die Here jou Verlosser, die Heilige van Israel.
En Jes. 41:10 in 1953-vertaling: Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou;
kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou,
ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.
Ek het ook iets uit die gewone
lewe geleer: In die departement en stad waar ek gewerk het, was daar baie
Xhosa-sprekende mense. Ek het by hulle geleer om in ʼn vergadering rustig verskille
te bespreek. Hulle het die manier gehad waar almal byvoorbeeld ʼn eier te lê gehad het oor hoe ʼn saak hanteer
is, en die gekritiseerde ou rustig notas gemaak het en sou sy beurt kom, rustig
die kritici se punte sou weerlê, of toegee, of wat ook al. Die punt is, elkeen
kry sy praatbeurt, vra die ‘chair’ of hy kan praat, en praat dan rustig. Ek het onder my
ander Afrikaanse kollegas ook gesien dat baie van hulle ontsteld, met ʼn skril
of bewerige stemmetjie sou praat as hulle benadeel word. By die mans het ek
gesien dat hulle rondvroetel, rooi in die gesig word, en so aan. Ek het die
kalm hantering van konfrontasie by my Xhosa-kollegas aangeleer en is baie bly
dat ek dit gedoen het. Daarmee saam het ek ook weereens die “persoonlike” uit
die konfrontasie gehaal. Ons bespreek die metode, die verskil, die gedrag, nie
die persoon nie. Sommige Afrikaanse families het wel die rustige manier van
uitpraat. Ons sʼn het dit beslis nie gehad nie. Dit het my lewe baie verander. Die skietgebed
in so ʼn situasie was hier ook ʼn groot voordeel – asook die vaste wete om,
terwyl dit dalk woes om jou gaan, jou hand gedurig in die seker Hand van die
Here te hou en te wéét dat Hy sorg. Nouja, lekker konfronteer!
