Sunday, 28 April 2013

GEDAGTE-GEWOONTES


GEDAGTE-GEWOONTES
Ek het ʼn gedagte-gewoonte wat ek van jongs al aangeleer het. Ek was dikwels teleurgesteld in mense. Dit was egter die wyse waarop ek na mense gekyk het, wat die ongelukkigheid veroorsaak het. Byvoorbeeld, as iemand iets vertel het, het ek hom in die fynste besonderhede na die feite uitgevra. As hy vir my sou sê iemand was kwaad, het ek uitgevra hoekom hy so sê. Sien, ek het nie sy afleidings geglo nie. Ek wou my eie afleidings maak. Ek was eintlik “ongelowig”. Ek het selfs nie die Here vertrou nie, en het lank geneem voor ek in Sy Goedheid geglo het.  

Verder, as iemand 2 jaar lank gaaf was met my, maar eendag kwaad word oor iets of naar was met my het ek dadelik gesê dat sy ware kleure nou uitkom. So het ek hom in my gedagtes geklassifiseer. Ek was teleurgesteld en het daai persoon dan vermy en ver weg van hom gebly. Ek het mos nou agtergekom hoe hy was. Wat ek geweet het, maar nie besef het nie, is dat niemand volmaak is nie (ek ook nie!) en een of ander tyd maar ʼn slegte dag kon hê sonder dat ek hom vir ewig afgeskryf het.
Die Here het my van hierdie slegte gedagtepatroon verlos. Eers het hy vir my gewys dat ek maar mense kon vertrou. Dat ek nie die alwyse en alwetende was nie. Toe het hy vir my geleer om die mooie in ander raak te sien, om die persoon agter die slegte raak te sien, ook om te sien soos die Here hulle sien, ʼn verlore sondaar. Hy het my ook geleer om nie op prinse te vertrou nie, maar op Hom, dus was ek nie so teleurgestel nie. Ook het Hy my geleer dat Hy goed geweet het hoe sleg mense was, maar hulle tog liefgehad het en oor hulle gehuil het. Verder is die Here altyd naby, en is Hy daar om my te help om mense met Sy oë te sien en te beoordeel.
Deesdae sien ek raak dat hierdie gedagtepatroon ‘n familie-gewoonte is, en bid ek dat my familie ook deur die Here verlos sal word van hierdie gedagtes wat mens net chronies ongelukkig maak.